Deur JANNIE GAGIANO
O my ma daar’s ‘n doring wat my pla
Leg ek op my rug, dan trek die doring trug
Leg ek op my sy, dan steek die doring my
Daars niemand in Transvaal wat die doring uit kan haal …
Stellenbosch Universiteit sit al sedert die totstandkoming van die nuwe demokratiese bedeling in Suid-Afrika met so ‘n doring in sy vlees. Die vorm waarin die drie groot euwels van moderniteit, naamlik imperialisme, kapitalisme en kolonialisme (soos afgekook in ‘n Apartheid-distillaat) die universiteit gegiet het, was so diep geplant in sy institusionele, intellektuele en geestelike begrondings-apparatuur dat die instelling toentertyd voor ‘n soort ‘adapt or die‘ keuse gestel is.
Buig of bars. Transformeer uit eie beweging, of word getransformeer deur ‘n vreemde besettingsmag wat oor jou versperrings gaan klim en jou van buite af gaan louter deur die slym van apartheid van jou mure af te was.
Jy kon die geestelike louterings-enema deur jou eie priester-ordes van binne af laat toedien, of die buikspoeling sou van buite af gedoen word deur die priesters van die Vrye Kerk van Verlossing. Maar kom wat wil. Die drol moes uit die drinkwater geskep word. Daadwerklike optrede was gebiedend. Die voorbokke in die kweekskool kon later kwessies soos of apartheid die sondeval tot gevolg gehad het en of die sondeval as n stigtingsvereiste vir Apartheid gedien het , uitpluis. Maar vir nou was dit rek of vrek. Alea jacta est!
Aan die begin het die universiteitsbestuurders hul voetjies wat die versoenings- en boetedoeningspad moes loop, huiwerig geskud, soos ‘n huiskat wat in water getrap het. Maar mettertyd het die stroom sy vloei begin kry en sterker begin loop. Navolgenswaardige voorbeelde uit die breër samelewing het die stroom versterk.
Geestelike leiding deur godsdienstige deskundiges en professionele Christene was aan die voorpunt. Vader Nolan van die Dominikaanse Orde het byvoorbeeld aangekondig dat die Opperwese self uit Haar hemelse woning afgedaal het om die verlossingstryd uit die sataniese kloue van apartheid te beredder. Sy het daarby ook nog die bevrydingsbewegings met ‘n mandaat toegerus om die gebroke werklikheid in Suid-Afrika te kom herstel.
‘n Waarheids- en Versoeningskommissie is tot stand gebring om die verdwaalde bokke (wat meestal met n Afrikaanse tongval geblêr het) in die kraal van geestelike welstand terug te bid. Gevoelige en diepgelowige Christene soos Adriaan Vlok, wat as ‘n vorige minister van polisie die pad byster geraak het, kon sy boetedoenings-gewaarwordinge uitleef deur Frank Chikane se voete te was.
Die demonstrasie-effek van hierdie gebeurlikhede het na die universiteit deurgespeel as ‘n les oor hoe om visse te gooi vir die beer wat dreig om hom op te vreet. Laat stroom eerbewyse oor die skouers van die nuwe magsbesetters as ‘n demonstrasie van hoe die skille in strome van jou eie oë afgeval het. Salf die hoofde van die nuwe konings met eredoktorsgrade, al word die daad dan miskien soms getooi in die skynheiligheid van valse eerbied en uitgevoer met die skuins knieval van ‘n vroom mens wat haastig iewers heen op pad is.
In die vroeë jare van die huidige eeu is die hosannas dikwels aangehef en die palmtakke elke jaar tydens gradeplegtighede gereeld geswaai toe die helde van die nuwe orde op hulle donkies deur die universiteitspoorte gery het op hul pad na die akademiese salwings-seremonies.
‘n Geassosieerde oorlewings-slenter was om die name van die eertyds geëerde rampokkers van Apartheid wat op die frescoes van universiteitsgeboue gepryk het, onseremonieel te verwyder en te vervang met die name van die opgeduikte lyke wat uit die nostalgiese begrafplase van die geskiedenis herwin kon word. Sommige van hulle, soos Krotoa, was so oud dat dit sommige van ons historici toelaat het om die bloedspoor van die vertraptes terug te lei tot na die binnevaart van Riebeeck se skepies, al drie van hulle gelaai met die patogene van moderniteit wat bestem was om ons Tuin van Eden te kom ontluister.
Op die manier kon die universiteit bieg deur apologie aan te teken vir oer-oue misdade ten einde homself vry te spreek van huidige misdade. ‘n Egalitariese ywer wat die vertrapte skimme uit die verlede wou gelykberegtig in die hede het posgevat. ‘n Pantheon wat saamgestel was uit die vernederdes van die verlede is opgebou, en hul virtuele teenwoordigheid in die hede aangewend as ‘n muur van skande waar ons met mekaar kon meeding om te ween oor die sondes wat die voorvaders teenoor hulle gepleeg het.
Maar soos die jare aangestap het, is hierdie besondere vorm van ‘a sop to Cerberus’ blootgestel aan die werking van die sogenaamde wet van dalende opbrengste. Die sop het net te dun begin word om die transformasie-ywer se maag te vul.
Die Jakobynse vereistes wat gestel is vir die herwinning van die goue eeu waarin die egalitariese tuin van Eden se blomme weer kon bloei, het meer daadwerklike en tasbare ingrypings gebiedend begin maak.
‘n Jakobynse kategisme het stadig maar seker en met groter dringendheid beslag begin kry, en is stelselmatig deur die Senaat, die Raad en die Rektoraat afgekondig as die operasionele instrumentarium wat die institusionele transformasie van die universiteit moes lei en begelei.
Die kategisme se afdampingsgeure het egter iets van ‘n Orwelliaanse 1984-reukie in die lug laat hang. Dit het mense laat dink aan hoe Winston Smith (die hoofkarakter in Orwell se vertelling) moes gevoel het toe hy die afkondigings van ‘Big Brother’ oor die luidsprekers moes aanhoor. Nietemin kon dit dien as ‘n vooruitskouing van wat mens in die toekoms kon verwag.
Terselfdertyd het ‘n soort baster “woke” gesindheid in die vorm van ‘n generiese Kulturkritik die tale en sosiaal-wetenskaplike dissiplines aan die universiteit begin binnesypel. Veral uit die VSA. Studies het meer en meer daarna begin neig om leermeesters en studente in ‘n posisie te plaas waar hulle hulself en ander kon ontdek as die slagoffers van ‘n verwronge en onregverdige samelewingorde.
Die wetenskaplike aandag word toegespits om ondersoeke te loods na die maniere waarop die groepe waartoe hulle behoort deur die samelewing geviktimiseer, gemarginaliseer, uitgebuit en tot stilswye gedwing is. Mens kan die verskynsel herdoop na n Griewelogie of ‘n Smartkunde wat beoog het om ‘n nuwe soort generiese gewaarwordingsgesindheid oor die hele geesteswetenskaplike spektum van vakrigtings in te skerp.
En wie kan beter toegerus wees om as die geneeshere van so ‘n siek samelewing op te tree as die deskundiges wat uit die geledere van sulke vertraptes self gegenereer word?. Maak die vernederinge waaraan mense soos hulle onderwerp word, hulle dan nie eksistensieel bevoorreg om deur die smart en pyn van vernedering gelouter te word en die dwalinge van ‘n valse bewussyn af te skud nie? En is hulle daarom nie juis beter toegerus om die planne en sketse vir die argitektuur van ‘n alternatiewe samelewing op ‘n verbeeldingryke manier af te teken nie?
Dit lyk asof die Senaat, Raad en Rektoraat hierdie sienswyse toenemend onderskryf. Op sy laaste vergdering het die Raad besluit om een van die koshuise op die kampus, te wete Wilgenhof, soos ‘n verdorde wilgerboom los te kap van sy 130-jarige wortels en die plek te herverbeel as n soort “wie-weet-wat” boom. Of ‘n hoender. Of ‘n swaan. Wie weet.
Nes die donkie, is die verbeelding ‘n wonderlike ding. En almal weet dat as varke vlerke gehad het, hulle sou kon vlieg. Vir die universiteit se verbeeldingryke herskeppers van onsmaaklike en ongewenste werklikhede het die dringendheid van die tyd die besef gebring dat, in die woorde van Alice in Wonderland:
‘The time has come,’ the Walrus said, ‘to talk of may things: Of shoes and ships and sealing wax, Of cabbages and kings — and why the the sea is boiling hot — and whether pigs have wings.’
Mens kan al die kring van die spotters op Wilgenhof se quadbanke sien sit en in ligte luim herverbeelde rolle vir die Nagligte uit te dink. Soos om geld vir die universiteit te verdien deur ppp-ooreenkomste met die munisipaliteit te sluit waar die Nagligte in volle KKK-gewaad en met fyn stemmetjies soos Luftwaffe Stukas afduik op die misdadige elemente in die dorp se begrafplase wat die grafte ontsier en daarmee so te verskrik dat die middernagtelike gerinkink net daar in die kiem gesmoor word.
Of waar die hoof van die Nagligte die naglewe in die middedorp kan opkikker deur in ‘n nagklub uit sy gewaad te wikkel met die suggestiewe heupbewegings van ‘n ontkleedanser. Albei as beroepsaanwendinge van gevestigde Wilgenhof-bates om die derde geldstroom wat na die universiteit se skatkis lei, tot voordeel te strek.
Of selfs dat die koshuisgeledere jaarliks met ‘n kontingent Abakwethas aangevul word sodat kruis-kulturele vergelykende studies van inlywingspraktyke op ‘n gereelde grondslag deur die antropologie-department gedoen kan word.
So ‘n herverbeelde gebruik van die Wilgenhof-perseel veronderstel natuurlik dat ‘die Plek’ nie soos ‘n kernkragstasie ontmantel word deur tonne beton daaroor te stort nie. Dit vereis dat die plek gestol word in sy volle onsmaaklike gewaad, en in die hede afgebind word in die herkenbare gestalte van sy patogeniese wesenstoestand.
Per slot van sake, as mense ‘n brandoffer aan die Gode bring ten einde vergiffenis vir hulle sonde af te smeek, moet die sondebok lyk soos ‘n volwaardige sondebok — anders gaan die Gode die ding mos agterkom. En waar sit mens dan? Die Astekies het geweet dat net onbesoedelde maagde ten die kranse afgegooi kon word om die Gode se wraak te temper. Loskop-dollas het net geen ruilwaarde in die kosmiese vergeldingsmarkte nie.
Dit is tog na alles net redelik om te verwag dat as ‘n mens ‘n pispaal van ‘n plek wil maak daar n paal beskikbaar moet wees om teen te pis. Anders word die herverbeeldingsprojek dalk net ‘n nuttelose gefluit in die wind. Ondertussen bly ons maar aan die wonder oor watter groen weivelde die vrye herverbeeldingsvlugte van die Raad ons na gaan lei.
Ons volg deesdae die doen en late van Stellenbosch se Universiteitsraad uit nuuskierigheid eerder as uit enige ander oorweginge. Wie weet, miskien word ons nuuskierigheid beloon indien dit daartoe kan lei dat ons die Raad en die Rektoraat op ons beurt kan herverbeel as elemente in ‘n bestuurstelsel wat beter sal werk in hul afwesigheid.