Iets om aan te kou

Deur JANNIE GAGIANO

‘n Sendeling en ‘n koloniale amptenaar op soek na kannibale loop ‘n groepie inboorlinge in ‘n afgeleë woud raak, en doen navraag of daar enige kannibale in hul geledere is. Nee, kom die antwoord, ons het die laaste kannibaal gister in ‘n pot opgekook en vir aandete verslind.

As daar nou een ding is wat moeilik is om klein te kry, dan is dit die beheptheid van die mensdom oor die eet van mensvleis. Mense sal mekaar vermoor, uitmekaar kap, vergiftig, verpletter, bomme op mekaar se koppe laat afreën, huis en haard verwoes, besteel, aan vleishake ophang soos diere in ‘n abattoir … maar om een of ander rede weier om mekaar se vleis te eet. Christene sal, vir allerhande redes wat hulle goeddunk, hul gode se bloed drink en hul gode se vlees eet, maar kannibale verdoem oor hul meer robuuste en aardse kulinêre praktyke. Vir hulle is teofagie (god-etery) olraait, maar antropofagie (mens-etery) net beskikbaar op die duiwel se spyskaart. Ander mense se vleis bly verbode vrugte.

Dit is glo nie so dat mensvleis die een of ander weersinwekkende smaak het nie. Waagmoediges wat al ‘n mensribbetjie of boudtjoppie op die kole gesit het, rapporteer dat dit ‘n bietjie soos varkvleis smaak. Somige Fidjiane noem dit “long pig”, en die Caribs (cannibales) wat Columbus in die Karibbiese eilande raakgeloop het, het hulle oënskynlik verlustig aan die “steaks” wat hulle uit die karkasse van hul stamvyande kon kap. Hulle het blykbaar, soos die heks in Hansie en Grietjie, hul gevange vyande goed vet gevoer voor die feestelikhede op dreef gekom het. Die bekende waarskuwing aan kinders om nie met hul kos te speel nie was oënskynlik afwesig in die Carib-kultuur. So ‘n bietjie, ring-a–ring-a-rosies, all fall down, en dan in die pot.

In 1972 het ‘n klomp rugbyspelers van Uruguay op ‘n vlug in die Andes neergestort. Toe die honger en oorlewingsangs hulle na ‘n paar weke in die sneeu goed beetpak, het hulle van die gestorwe passasiers eers op die carpaccio-manier verslind, maar later op die kole gepak. Vir hulle, so word berig, was gaar mensvleis ononderskeibaar van beesvleis, en boonop nog ‘n bietjie sagter ook. En kyk, as Suid-Amerikaners nou een ding ken, dan is dit beesvleis.

Hoog aangeskrewe literêre figure, soos Jonathan Swift, die skrywer van Gulliver’s Travels, en toentertydse Anglikaanse dekaan van Dublin, het al in die agtiende eeu gekom met die “bedeesde voorstel” dat armoede, hongersnood en ander ellendes wat die mensdom kwel, bygelê kon word as ons net meer ondernemende maniere kon vind om die kosvoorraad te bestuur.

In ‘n wêreld waar die kosvoorraad stadiger groei as die aantal bekke wat wil eet, is sy voorstel dat melkgevoerde babas van die armlastiges tot ons spyskaart toegevoeg moes word sodat daar sodoende gelyktydig meer vleis op die mark kon kom, die rykes se kulinêre keuses uitgebrei kon word, arm ouers die kostes en moeites van kinders grootmaak gespaar kon word, en die aanwas van die aantal mae wat gevul moet word, dus ooreenkomstig verminder kon word.

Swift het sy voorstel natuurlik as satire bedoel — as ‘n kritiek op die ontluikende geesdrif vir die wondere wat industriele mark-ekonomieë met hulle kommodifikasie-logika die mensdom gebied het.

Die onheilspellende besef vat pos dat mense in ‘n mark-samelewing nie net as verbruikers van verbruiksartikels voorgehou kon word nie, maar ook op sigself deur ander as verbruiksartikels gesien en gebruik kon word. Een man se dood word dalk inderdaad ‘n ander man se brood onder die mededingende toestande wat bevorder word deur die amorele vleismeul-logika van die kapitalisme.

Dit bring ’n angstige versterking van die kannibale-taboe. Elke mens het sy prys, maar geen mens stel dit op prys dat daar ‘n prys op sy vleis is nie. Dit ten spyte daarvan dat daar ‘n florerende sluikhandel in harte, longe, tonge, lewers, niertjies en selfs testikels in die orgaanoorplantingsmarkte heers, en fluisteringe daarop dui dat mensvleis-resepteboeke hul verskyning op die”darknet” begin maak.

Dit lyk asof ons toenemend in ‘n ontluikende wêreld begin lewe waar dooie ligame as nie veel meer as spaar-onderdele vir die lewendiges of as rou material vir ‘n verskeidenheid van industriële aanwendinge gesien kan word nie. Die begraafplaas word ‘n skrootplaas, by wyse van spreke. Wat sal bygelowige siele nie betaal om ‘n bietjie van Einstein se gedroogte breinstof in hulle neusgate op te snuif, of ‘n snytjie van Richard Leeuehart se ventrikel-biltong op ‘n stukkie toast in die hande te kry nie?

Vir die Christen-sosialis F.D. Maurice is Darwin se gewilde evolusieleer bevorderlik vir hierdie soort wendinge in ons denkwyses. Darwinisme, sê hy, is verantwoordelik vir die opwekking van ‘n werklikheidbeeld van “a universe in which everything is eternally eating everything else”, en omdat mense self ook maar ‘n integrale deel van die werkinge van so ‘n “universe” is, hoekom maak ons dan nie maar “meat pies” van mekaar as oorlewing dit vereis nie?

Darwinisme sien ons vleeslike inkarnasie as nog net ‘n element in ‘n natuurproses wat werk met die onverbiddelike noodsaaklikheid van oorlewing en voortplanting, en wat ontwrikbaar is in die meedoënlose uitvoering van hierdie wrede reelmatigheid. Ons is die pronkstuk van ‘n evolusionere proses wat deur natuurlike seleksie van ons gemaak het wat ons is. As net die fikstes in so ‘n universum oorleef, dan is ons mos die fikstes. Ons is dan hier. Ons is die hoogtepunt van ‘n proses wat begin het as ‘n borreling van ‘n gewetenlose oersous in ‘n granietskeur. Ons voortreflikheid is die produk van ‘n barbaarse mandaat wat deur die natuur aan ons toegeken is.

‘n Verdere ontstigtende gewaarwording word egter in die verbeelding geplant as nog ‘n angstige oorweging ons te binne skiet. Is die biologiese begronding van ons aard nie dalk ook van toepassing op die evolusie van ons ekonomiese produksiestelsels nie? Is die amorele markmeganisme nie maar net ‘n onvermydelike uitingsvorm van die oorlewings-imperatief in ‘n industriële samelewing nie? Die barbaarse mandaat in industriële gewaad? Wat word gemaal in Blake se sataniese meule?

Hoe weet ons dat in die omstandighede waar ‘n internasionale voedings-industrie wat met hygende lewensgretigheid roekeloos al groter winste najaag, ons nie al klaar die slagoffers is van ‘n markmeganisme se opdiening van geslagte vleis wat uit ons eie geledere gepluk is nie? Is ons dalk salig onbewus daarvan dat ons al klaar in die geheim, en onbekend aan ons, al jare lank smul aan “meat pies” en ander lekkernye wat van mensvleis berei word? Raak die oersous al hoe meer venynig en geslepe soos hy voortstu?

Hoeveel van ons kan nog teenwoordig wees waneer ‘n slagding se keel afgesy word, of wanneer ‘n geweerskoot in die bees se kop ons die berusting gee dat ons weet watter dier se tjops in ons kombuis-skottels lê en bloei? Mens sou nie verbaas wees as meeste stedelinge in vandag se wêreld sou glo dat ‘n skaapboud of beesrib in ‘n fabriek uit ‘n amorfe generiese vleisplasma vervaardig word nie. Anonieme vleisplasma roep mos nie dieselfde emosionele gewaarwordinge by ons op soos Hansie die hanslam wat saam met ons op die plaaswerf grootgeword het nie.

Die transformasie van vleiskoper by die supermark se toonbank na slagvleis op die supermark se toonbank pas boonop mooi by die kommodifikasie-logika van ‘n ongebreidelde markstelsel.
Dit is tog ‘n ou slenter van oneerlike slagters om bobbejaanlewers, donkielonge, en dies meer in die worsvleis te laat wegkruip. Hoekom dan nie dieselfde kulkunsie met “long pig” in die vark “mince” nie? Mensvreters, soos Jeffrey Dahmer, kan dan sommer die middagmaal by die slaghuis gaan koop sonder om soos ‘n maniese kat middernagtelik rond te sluip om prooi vir die pot te vang.

Kan ons ons indink aan net hoeveel protein deur die vleismarkte verbeur word net omdat die lykshuise nog nie by die voedselverwerkingskettings ingelyf is nie?. As “orange” die “new black” geword het, hoekom het die lykshuis nie lankal die “new abbatoir” geword nie?

Om nie te praat van al die vleis wat verlore gaan omdat die die moordenaars wat in die dodeselle opeindig, nie — nadat die wurgtou sy werk gedoen het — sommer met die eerste beste vleiswa na die blikkieskos-fabriek vervoer word nie. Misdaadbekamping kan alleen baat vind by so ‘n reëling, en as die tronkvoëls onseker kan bly oor die oorsprong van die tronkvleis wat in die kerriekos in hulle blikborde geskep word, kan dit selfs dien as ‘n bedekte vermaning wat hulle kan laat afsien van hulle bose doen en late.

Die Sexy Boys in die Kaap sal twee keer dink as hul leier Donkies Booysen se onderdele na teregstelling onverbloemd direk as “ die donkielong special van die dag” bedien word, liewer as onder ‘n vals vlagnaam soos “spaghetti alla konsertina”, terwyl “Die donkie is n wonderlike ding” van Al Debbo oor die PA-sisteem ingepyp word.

As die natuur ons as ‘n stuk oorlewingstoerusting met rasionaliteit toebedeel het, en ons progressiewe benutting van hierdie verworwe eienskap ons ook vinniger kan laat vorder op die beskawingsleer, word die doel wat die middele heilig dan nie ook ‘n onvermybare morele imperatief nie? Ons sal tog nie deur die libido dominandi van die natuur in die steek gelaat word, soos die kannibale hierbo, wat vasgehaak sit in ‘n ontwikkelingstadium waar hulle verplig word om hul eie kannibale te verorber nie.

Nadat vriende en geliefdes by die kerkdiens van Oom Sakkie afskeid geneem het, verdwyn die stoflike oorskot mos uit die openbare blik. Die Oom Sakkie wat ons geken het en voor lief was, is mos saam met sy siel afgedamp in ‘n ander bestaansorde in. Wie sal weet dat sy vleeslike oorskot nou met sy hakskeen aan ‘n vleishaak hang totdat hy genoeg verouder het om sagte steaks uit hom te sny? En as sy karkas al klaar mooi verouder het by voetjieshang en ander plekke van onheil, soveel te beter.

Miskien is die eie vleis-taboe ‘n manifestasie van die onderdrukkingsmeganismes wat ons gebruik om die barbaarse wortels van ons beskawingsaansprake te misken.
‘n Beskawing word aan sy taboes ge-eien, en ‘n beskawing kom tot stand wanneer ons die laaste kannibaal vir aandete berei en verorber het. Die oersous “moves in mysterious ways its wonders to perform”.

////////////////////////////

ILLUSTRASIE: ‘The Irish Famine – Scene at the gate of the Work-house’. The People’s History of England (Cassell Petter & Galpin, c 1890), Wikimedia Commons. Armoede in Ierland was ‘n vername dryfveer vir Jonathan Swift se beroemde satire, A Modest Proposal for Preventing the Children of Poor People from Being a Burthen to Their Parents or Country, and for Making Them Beneficial to the Publick.

 

1 thought on “Iets om aan te kou”

  1. RE; IETS OM AN TE KOU GESKRYF DEUR JANNIE GAGIANO
    Kommentaar deur Isabel Venter:
    Vir my as Christin, glo ek dat die mens, volgens die Bybel, waarin ek glo, deur God as die kroon van die Skepping geskape is. Die mens het ‘n morele gewete wat hom onderskei van alle lewende wesens, en na die beeld van God geskape.
    Om die minste te sê is die artikel weersinwekkend en is vir ons as Chrtistene, onwaar. Die Bybel is die Woord van God wat aan Christene die riglyne gee waarvolgens hulle moet lewe. Nêrens in die Bybel staan daar dat mense mekaar moet of kan eet nie. Die stelling van Jonathan Swift, om hongersnood te verlig, vul die Christen met weersin.
    In die eersteplek is die stelling “Christene sal, vir allerhande redes wat hulle goeddunk, hulle gode se bloed drink en hulle gode se vlees eet” geheel onwaar. Christene gebruik die brood en wyn as ‘n herinnering aan die kruisdood van Jesus, die Seun van God. Jesus is gekruisig om die sondeskuld van almal wat in Sy dood en Sy opstanding uit die dood glo, se sonde te vergewe en die ewige lewe ontvang. Dis wat die Bybel vir ons as Christene leer. Christene aanbid ook nie gode nie, ons aanbid slegs een God.
    Is hierdie artikel van Jannie Gogiano nie ‘n bietjie aspris of satiries, om
    n groot stuk onsekerheid en twyfel te versoorsaak nie?

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Share via
Copy link
Powered by Social Snap