Deur JANNIE GAGIANO
Mens is nie seker hoekom Jacob Zuma en Julius Malema se kritiese beskouinge oor die toepassing van liberale grondwetlike beginsels op die bestuur van landsake in Suid Afrika as so vreemd veroordeel word nie. Dit is eintlik al kaart wat hulle nog oor het om te speel. Dis die kaart wat daarop staatmaak dat daar nog politieke kapitaal is in die veroordeling van die politieke, ekonomiese en maatskaplike vorme van moderniteit wat die wêreld oorheers en wat so diep in hierdie wêreld geplant is dat dit feitlik immuun is teen die revolusionêre spartelinge wat nou al reeds vir meer as 400 jaar of meer probeer om die fabrieksfoute van so ‘n samelewingsorde op die planeet ongedaan te maak.
Konstitusionalisme as ‘n leerstelling en program vir die skepping en vestiging van legitieme en doeltreffende institusionele politieke bestuursmeganismes in moderne samelewings het ‘n lang en eerbare reputasie in westerse ontwikkelde lande. Maar dit was ook nog altyd die teiken van politieke entrepreneurs wat dit beskou as ‘n bolwerk wat opgewerp word teen die revolusionêre transformasie van moderne samelewings, en sodoende te verhoed dat ‘n samelewingsorde waarin ‘ware’ geregtigheid kan geskied, tot stand gebring kan word. Liberale grondwette dien as ‘n halter waarmee die vurige hingste van revolusie koudgelei kon word.
Dit is ook die broerskind en begeleidingsverskynsel van die opbou en vestiging van kapitalisties georganiseerde ekonomiese produksiestelsels. So as jy kapitalisme verag, dan verag jy ook sy tweeling-boetie. En as jy jou veragting in ‘n ideologiese werklikheidsvoorstelling wil begrond en jou minagting uiting wil gee in die vorm van die revolusionêre bestryding van wat jy beskou as die euwels van kapitalisme, dan is Sowjet Bolshevisme die uitsoek-kerk waar jy kan aantree om die blye boodskap aan te hoor. Of die preekstoel waarvandaan jy die revolusionêre verlossingsboodskap kan verkondig.
Die ANC het voor die val van die muur ‘n intieme verhouding met die revolusie-stokers in Moskou gehad, en ooreenkomstig die hoof-elemente van die verlossingskategisme wat in die heilige skrif van die Bolsjevisme vasgelê is, hul eie gemaak.
Die loog waarin hul oortuiginge in ‘n post Sowjet-wêreld en na amper 30 jaar van daadwerklike landsbestuur gedompel is, het nou wel ‘n klomp gate in die geloofskombers gevreet, maar daar is nog baie wat kaalvoet oor die Drakensberge sal loop om die tien gebooie van “the movement” te beskerm.
Die basis-dokument vir hierdie ideologiese verbetenheid bly die leerstellinge en denkbeelde wat die geesdrif vir die sogenaamde National Democratic Revolution in Suid Afrika onderskraag, en dros nie te ver weg van sy Leninistiese wortels nie. Dit vorm die ideologiese bladmusiek waarop die Zumas, Malemas, Magashules, en andere hul oudmodiese en afgeleefde kitaar slaan.
Die hoof-politieke teoloog wat die Bolsjevistiese verlossingsleer verkondig het, was natuurlik een van Marx se ketterpriesters, Vladimir Illich Lenin. In 1917 het hy beheer gekry oor die instrumentarium wat die Sowjet-staat tot sy beskikking gestel het nadat hy Kerenski se flou poging om ‘n parlementêre demokrasie konstitusioneel op te rig, uit die pad gevee en die brutale instrument van ‘n proletariese diktatuur in die plek daarvan gestel het. Die kodifisering en verkondiging van Marxisme/Leninisme se verlossingsleer het nou die borgskap van ‘n staat se propaganda-masjinerie en militêre geweldsmiddele van die Rooi Leer gehad om die eiers te breek waarmee die revolusionêre omelette gemaak kon word.
Een van Zuma en Malema se meelopers en ‘n lid van die ou ANC “royalty”, Lindiwe Sisulu, verkondig vandag nog steeds so geradbraakte amalgaam van Lenin se verlossingspolitiek in die vorm van die sogenaamde National Democratic Revolution wat sy by haar Pappie, Walter Sisulu, aangeleer het. Walter was ‘n “dyed-in-the-wool” Bolsjevis. Dit was Lenin se siening dat as jy as vader jou kind vir agt jaar of so aan die revolusionêre boodskap blootstel, jy ‘n lewenslange Bolsjevis in die wêreld kon bring. Walter het dit waarskynlik goed in Lindiwe se opvoedkundige vormingsproses ingeknie.
Die ideologiese elemente in die verhaal wat nog ‘n meeloper van Zuma, John Hlope, nou mee te koop loop en waarin hy die regters wat oor die grondwet moet waak, afkam as “Uncle Toms” omdat hulle as die beskermhere van ‘n liberaal-konstitusionele bedeling dien, is nog so ‘n tuisgegebakte tert met Leninistiese geurmiddels. Hierdie bedeling behou volgens hom die nalatenskap van die tempelpilare van moderniteit, te wete Imperialisme , Kolonialisme en Kapitalisme, en laat daarmee die bevrydingstreine ontspoor.
Toegepas op Suid-Afrika beteken dit onder meer dat die politieke gelykstelling wat in ons grondwet besing word as ‘n politieke afbouing van apartheid sonder die ooreenkomstige ekonomiese gelykstelling wat vereis word vir die afbouing van “ekonomiese apartheid”, ‘n bedrog is en nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie.
Hier in Suid-Afrika bly ons, as ons deur ‘n Leninistiese bril na die ding kyk, “a democracy for the rich”. Die revolusionêre baba word versmoor deur die liberale konstitusionele kombersie waarmee dit in die wieg toegevou word.
Grondwetlike beperkinge soos vervat in liberale konstitusionle denkbeelde en praktyke lê die revolusionêre ywer om die wereld in ‘n egalitaristiese paradys te verander, aan bande. Die revolusionêre Jakobynse gelykheidstrewe kan alleenlik verwesenlik word indien daar genoeg mag en gewelds-hulpbronne gekonsentreer kan word in die meganisme wat ‘n monopolie van geweld kan aanwend as ‘n werktuig om kollektiewe doelstellings te bereik. Dit vereis die konsentrasie van mag in ‘n gesentraliseerde staat.
Die aanwending van staatsgeweld in diens van die verwesentliking van die egalitaristiese ideaal word regverdig deur die diens wat dit lewer aan die “People” as ‘n nuutgevonde moderne weergawe van ouer vorme van die Gemeenskap van Heiliges. “Die People” word in hierdie ideologiese leksikon omgebou as ‘n Gemeenskap van Verdruktes wat verlos moet word van hul onverdiende ellende wat deur die instellings en agente wat hierdie instellings beman, op hulle nekke afgebring word.
Ware revolusie vereis die verheiliging van geweld in diens van die gelykstelling van “the People” . “Freude schöner Götterfunken” sing Beethoven se koor in sy Negende Simfonie as ‘n verheerliking van die oermodel vir moderne revolusies, die kortstondige Jakobynse bloedlating in Frankryk. Hier word die lem van Madame Guillotine besing as ‘n metafoor vir die wyse waarop ‘n nuwe soort samelewingsorde tot stand gebring moes word. God se vonke spat die wêreld vol, en Sy betowering herstel die wesentlike broederskap (alle menschen werden brüder Wo dein sanfter Flugel weilt), wat verlore gegaan het met Adam en Kain en Abel se geknoei in die paradys, en met die manier waarop die beskawingshelde van moderniteit met hul gula, averitia en luxuria samelewings uit die vorm gebuig het waarin die edele barbaar bedeeld was met die regte wat die natuur as ‘n geboortereg aan Hom toegeken het. Revolusie kry ‘n goddelike mandaat om as ‘n kollektiewe handeling ongelykheid uit te wis en die essensiële broederskap van die mensdom te herstel .
Siniese liberale grondwetskrywers verhoed ons om die modes wat ons verdeeld en ongelyk hou met die goddelike vuur weg te brand, en sodoende handhaaf hulle ‘n soort generiese apartheidstelsel.
Die bedrommelde swart regters wat die poorte tot die egalitaristiese paradys versper is vir Zuma en die regter aan sy regterhand, John Hlophe, nie in Beethoven/Schiller se taal “feuertrunken”( vuurbesope of vuurbeskonke) genoeg om as dienaars van die gemeenskap van die verheiligtes op te tree nie. Hulle raak beskonke op kolonialisties gedistilleerde whiskey voor hulle op die regsbank klim. Gooi hulle saam met die stelsel wat hulle in stand hou in die revolusionêre verteringsvure, dan raak ons vreugde werklik gelaai met goddelike vonke.
As jy as regter nie van judisiele dronkbestuur aangekla wil word nie, dan is nkhomboti die dop wat die Afrika are in jou kop moet laat swel en die skille van jou oë moet laat afval.
Bestorm die Bastille en tempels van monopolie-kapitaal soos die reuse-kettingswinkels in Kwazulu Natal se hoofstede as die ontberinge van armlastigheid onuithoudbaar word. Bevrydings-onverdraagsaamheid {Paulo Jordan) is ‘n edele respons in so ‘n wêreld, en vernielsugtigheid, plunder en brandstigting ‘n uitingskreet van die pyn van armlastigheid. Dit verdien aanmoediging en morele beskerming. “With our boxes of matches and our necklaces we will liberate our country” (Winnie Mandela). En as jy teenpraat, dan “soek jy ‘n tyre”.
Jacob Zuma se beeld as ‘n onwrikbare manteldraer vir die uitlewing van ware revolusionêre brandstigting kry ‘n hupstoot, en die valse profete op die regsbanke en in die presidensie word in die bek geruk. Hulle soek ‘n “tyre”.
John Hlophe se verknorsing kom duideliker na vore wanneer hy ‘n variasie op die ou Marxistiese vals bewussynsleer aansny as ‘n manier om swart regters sleg te maak. Volgens hom is hul denke ‘n vorm van koloniale valse bewussyn. Die heersende regstelsel en die beginsels van regspleging moet volgens hom herontwerp word sodat die regswese nie in diens kan bly van die voortgesette handhawing van die sogenaamde ”fabrieksfoute” van die moderniteit nie.
Dit bly egter ‘n ope vraag of die soort teenmiddels wat berei word om Europese kolonialisasie in Afrika te bestry, nie ook maar hoofsaaklik uit Europa stam nie. Die soort baster Marxistiese en verwante denkbeelde van die Bevrydingsteologie oor die vorm van geregtigheid wat die politieke verloskundiges aanbeveel om die “gebroke werklikheid” wat in kapitalistiese samelewings heers weer heel te maak (Alan Boesak), kom ook heel dikwels uit die geledere van die intellektuele yweraars wat hulle wyshede aan die universiteite in die eertydse koloniale metropole aangeleer het. Omtrent almal ken al die geykte storie dat as jy jou kinders wil radikaliseer, jy hulle na ‘n universiteit in die Europese Unie of die VSA moet stuur , en as jy hulle wil ontgogel, is dit ‘n goeie plan is om hulle in Moskou te laat afstudeer.
Hier in Suid-Afrika is ons dus eintlik dubbeld gekolonialiseer. Eers deur die Hollanders en die Engelse met hulle gewaande en vermetele meerderwaardigheids-denkbeelde, maar ook deur die Russe, met hulle gewaande en vermetelde verlossingsdenkbeelde. Pay your penny and take your pick, of steier terug na die herwinning van ‘n soort voor-moderne ubunthu as ‘n model vir die herstel van die edeler vorme van primitivisme wat byvoorbeeld deur ‘n African Renaissance projek opgewek kan word. Of versinnebeeld word deur Zuma wanneer hy sy pensvet laat dril met sy hoogtrap danspassies in ‘n tiervel gewaad, en sy beesstert laat swiep om die luister van die parogiale stamgode van die Zoeloe-nasie nie aan te tas nie.
Ongelukkig het Rousseau die patent op daardie ene al in 18de eeuse Europa uitgeneem. En elke tree wat die wêreld op die pad na ‘n voortstuwende verswelging deur tegnologiese innovasie gee, voer nog verder weg van die regressiewe herstel van ‘n wereld waarin die edele barbaar weer tuis kan voel. Ons verknorsing is dat ons in hierdie Brave New World voortdurend besig is om deur tegnologiese innovasie nuwe vorme van ongelykheid die wêreld in te bring.
Die verknorsing begin miskien daar, maar ongelukkig eindig dit vir Zuma en sy trawante nie daar nie. Sou mens ‘n bronne-ontleding wou doen oor die sondes van armoede in samelewings en die morele verdoeming daarvan, is die groter Europese ruimte weelderig besaai met voorbeelde. Die debat is so oud soos die berge.
Paulus van Tarsus word deesdae in linkse Europese kringe (Jacob Taubes) as een van die eerste anti-koloniale en anti-imperiale aktiviste in die Romeinse Ryk uitgewys, en van toe af tot nou toe lê die kultusse wat saligmaking deur vrywillige of gedwonge armoede navolg, dik gesaai op Engeland en die kontinent.
Lyding (ook lyding deur materiële ontbering) word in die Christelike storie tot ‘n soort epistemologiese waarheids-ontsluitingsmetode verhef, en die Marxiste se hele vals bewussynsverhaal is daarop gemik om ‘n verlossingsteorie rondom ‘n suiwerder proletariese klassebewussyn te bou.
Die huidige Pous se naamgenoot, Francis van Asissi, het so te sê die versugting van redding deur armoede tot die leuse van ‘n kerkorde verhef. Die klomp millenniale ekstase-soekers in die laat middeleeue, miskien die grondbereiders vir die uitbou van ‘n latere Protestantse etos, het omtrent almal die gevestigde Vatikaan-monopolie afgesweer deur die werkinge van die Vier Perderuiters van die Apokalips (een van hulle was hongersnood) toe te skryf aan die sataniese aktiwiteite van metafisiese skurke soos die antichris en die hoer van Babylon. Dit is nou ander name vir die Pous en die Vatikaan. Moderne bevrydingsteologie groei en gedy onder meer in ‘n beduidende mate in die Vatikaan se geestelike baarmoeder. Die hoer van Babylon se huis is een van baie wonings. “Monopolie-kapitaal” is maar net een van haar kinders.
So wie kolonialiseer vir wie? Zuma kan gesien word as net so ‘n papegaai vir Comrade Putin se herkolonialisering van Zelensky se Ukraine as wat Zondo gesien kan word as ‘n papegaai vir bv Jefferson se Empire of Liberty.
En hoekom is daar so ‘n gretigheid onder die elemente wat vroeër in die greep van die Russiese werkersparadys vasgevang was om, soos Zelensky, te ontsnap aan die vorm van koloniale inlywing wat Stalin en die Rooi leer aan hulle opgedring het? ‘n Soort Tsaristiese Imperium onder nuwe bestuur? Aanvanklik vol Stalinistiese Freude en schöner Götterfunken, en vol gedwonge broederskap. Deesdae, onder Putin, gestroop van die vreugde en die goddelike vonke, maar gelaai met die vreugde wat spruit uit die herstel van Peter die Grote en Katarina die Grote se imperiale Groot Rusland onder die bestuur van moderne “stationary bandits” (Mancur Olson).
Watter soort palookas loop vrywillig en geesdriftig uit die paradys uit en in die hel in? En wanneer hulle in die hel aankom, dan is een van die eerste dinge wat hulle doen om liberale institusionele suurstoftente te bou en konstitusionele skanse op te rig teen die soort praktyke wat Zuma se MK troepe en Malema se rooi getooide Ekonomiese Freedom Fighters aanbeveel as die resep om die Jakobynse droom te bewaarheid. Kolakowski stel dit goed. “There is no reason to expect that this dream can ever come true except in the cruel form of despotism; and despotism is a desperate simulation of paradise.”
Op die oog af lyk dit asof die politieke kapitaal wat die Zumas en die Malemas van hierdie wêreld kan versamel deur hierdie vorm van politieke musiek te maak, nie ‘n veel beter kans op sukses het as wat Simson gehad het toe hy die Filistynse tempelpilare op homself afgetrek het nie.
/////////////////