Onder die kluite raak ons voorvaders nou warm

Deur Jannie Gagiano

Diegene wat beweer dat die dood vir mense geen vooruitsigte bied nie, moet weer dink. Só sê ou Gert Booysen van AVBOB. Hy maak ‘n goeie lewe uit ander se doodgaan.

Nood leer bid, sê hy, maar die doodsvooruitsig leer beplan. Soos die ou beenkop met die sens naderkruip, moet mense met gesonde verstand beplan en bepaal in watter soort weelderige toerusting hulle in die grond verpak of in die oond verskroei wil word.

Wie wil nou as die trompet die wederopstanding van die vlees aankondig, sommer in enige ou hierjy kis opgewek word? Vir meeste mense moet dit ‘n designer job met silwer handvatsels en duur hout-afwerkings wees, anders sal hulle nie dood in die ding gesien wil word nie.

Watter soort sielevreugde kan mens nou daaruit put om onder die begrafinisondernemers se “econo plan” ingespit te word? En dit boonop nog in ‘n tweedehandse suit wat by die hospice gekoop is? Die siel wat in so slordige lap getooi word, sal mos nooit rus kry nie. So ‘n siel sal altyd bly stoei met die noodlot wat bepaal het dat hy/sy op so ‘n common manier in sy/haar sandkombersie onder die langboompies te lande gekom het.

Dan is daar weer die ander soort wat nie rus vir hul siele kan kry voordat hulle nie hul gat gesien het nie. Ou Mikke Stone van Garies vertel van die ou vrek van sy omgewing wat elke keer as hy dorp toe gekom het vir besigheid, ‘n draai by sy gat gemaak het. En hy wou nie net sy eie gat sien nie — hy wou sy vrou se gat ook sien. Om te kyk of die balbyters nie alweer nes gemaak in hul gate nie.

Want in daardie deel van die wêreld is daar twee soorte gatkruipers wat jou siel kan versondig — balbyters en oogpisters. As dit nie die een is nie, dan is dit die ander een. En as balbyter eers in jou gat is, versondig hy nie net jou siel nie, maar begin ook knaag aan die murg in jou pype.

Mikke Stone rapporteer dat, sodra hy agterkom dat die balbyters in sy gat begin nesmaak, die ou vrek bevele gegee het dat die munisipaliteit sy gat en sy vrou se gat moes omruil. Sy staande opdrag het gelui dat sy na sy gat en hy na haar gat verskuif word om die balbyter se aanslag op sy gat minder van ‘n gatslag vir hom te maak wanneer sy tyd kom.

Hoe die ding vir die ou vrek uitgedraai het, is onbekend, want hy is ook een van daai wat in sy testament bepaal het dat hy, die langlewende, alles erf. En sy gat en sy vrou se gat is as bates in sy boedel geregistreer.

Dus ‘n patriarg van die ou soort wat, wanneer hy vir sy vrou sê, kom lê, dan moet sy kom lê – of sy nou van haar gat gepla is of te not. Haar gat is mos sy eiendom. Sy vrou moes seker maar op die ou end die balbyters ongesiens getrotseer het , net om hom ter wille te wees.

Nou, as iemand sou dink dat dit op die spoggerige Bolandse dorpe beter gaan as op Garies, het hulle dit mis. Selfs ‘n oppervlakkige ondersoek na toestande in die dorpe se begraafplase sal so iemand gou van die teendeel oortuig. Net ‘n vinnige loer oor enige beenplaas heen sal jou bewus maak van hoe die goeie reëns die grassaad aangespoor het om uitbundig tussen die grafstene te groei en die name op die klippe in ‘n groen gloed te verswelg.

Hoe die sterk winde die bome se takke afgewaai en oor die looppadjies laat opstapel het. Hoe van die groter bome op en oor grafte neergestort het op ‘n manier wat, hoewel hulle van tyd tot tyd deur munisipale werkers verwyder word, die ingelegtes onder die klippe maar net meer teneergedruk moet laat voel. Veral vir die wat nie genoeg geld in die bank het om assuransie uit te neem indien die wederopstanding hul in die steek sou laat nie.

Die groeisels tussen die grafte maak dit vir besoekers en familielede moeilik om ‘n graf wat hulle lanklaas besoek het, op te spoor. Dit laat hulle wonder of die afgestorwenes nie gebelgd begin voel oor die toedrag van sake, en of dit hul gaandeweg opstandig kon maak nie.

Navorsers in die geesteswetenskappe het begin wonder of dit nie tyd geword het om geeste op te roep op die ou beproefde metode van die séance nie. Met die glasies wat op ‘n spieëltafel rondskarrel tusen die letters van die alfabet, en die name van die geeste uitspel wat hulle aanmeld vir ‘n gesprek. Dan kan mens dalk onderhoude voer met die voorvaders en moeders, en uitvind hoe hulle oor die saak voel.

Ander het begin wonder of – gegewe die jongste deurbrake in kommunikasie-tegnologie, onder meer in die ‘wolke’ – daar nie ‘n manier is om jou voorvaders se gedagtes met jou selfoon te kan aflees, of whatsapp-boodskappe aan hulle deur te stuur nie.

Daar is natuurlik altyd ‘n klomp Luddites in die séance-gildes wat saam met sangomas en ander impresarios van die okkulte kunste heul om nuwerwetse metodes vir skakeling met afgestorwenes met virusbesmettings en heidense inkantasies te ondermyn. Nietemin lyk die vooruitsigte om skakeling met die dooies op sosiale media platvorms staan te maak, rooskleurig.

Een van my eie voorvaders lê juis onder ‘n klip teen die Papegaaiberg op Stellenbosch. En soos ek hom in die lewe geken het, kan ek my al klaar voorstel hoe ons gesprek sou verloop.

Ek kan begin deur hom te vra wat hy dink van die sielsuiwerings-metodes van die Voodoo-praktisyns wat hoederhane se koppe afkap en dan in die daaropvolgende bloedreên hul sondes skoonwas. Dit is ‘n ou onderwerp tussen ons. Ek wil hom laat gemaklik voel.

Mens is wys om die gesprek weg te stuur van gevoelige onderwerpe soos watter soort straf vir sy aardse sondes toe wel aan aan die anderkant aan hom uitgedeel is, en of sy pleidooi dat hy in sonde ontvang en gebore is, wel ‘n kans sou staan om op appèl te slaag. Of hoe hy gemaak het om oor die kole te kom toe die vaevuur sy tone begin brand het.

Voorvaders is natuurlik wispelturige wesens. Mens weet nie altyd waar jy met hulle aan of af is nie. Veel is die verhale van lewendes wat op togte soos myne voor dooiemansdeur te staan gekom het. Veral as jy ‘n gesprek probeer begin met so ‘n esoteriese onderwerp.

Noem dit maar beginner’s luck. Maar met my eerste poging om sy gees voor die gees te roep, meld my voorvader hom aan. En ‘n regte ou korrelkop daarby. Hy vlieg my omtrent in.

Hoe durf ek kerm oor isoteriese sielsuiweringstegnieke terwyl die begraafplase so vuil geword het, wil hy weet. Wat baat dit om hoenderhane se koppe af te kap en saam met die struikelende en spuitende kokkedoodledoos in agterplase rond te boogie ter rituele uitwissing van politieke vlekke as die kerkhowe besig is om in hul peetjie te gaan? Die vermetelheid!

Nee boetman! Jy maak my die bliksem in. Ask not what your ancestors can do for you. Ask what you can do for your ancestors!

“Dis ‘n skande. Bome val op grafte. Grafstene word geskend. Rampokkers sluip laatnag hier rond met skietgoed en messe, trek diep teue aan dagga-zolle, en koggel die spoke met sulke smerige sekskapades dat dit selfs die pornograwe onder hulle laat bloos. Hulle raak in die algemeen so astrant en parmantig dat die afgestorwenes nie meer hulle ewige lewens seker is nie.

Die toegangspaaie het so versleg dat mens net met 4×4-voertuie daarop kan ry, en die hele kerkhof  is besig om in ‘n death trap te verander. Die wetstoepassers doen hulle bes om die wanpraktyke te bekamp, maar het te doen met slinkse outjies wat hul hit and run tricks dikwels in die tronke geleer het. Die plek is laatnag afgesonder en afgeleë, met baie vinnig bereikbare skuilplekke wanneer hulle die wetstoepassers hoor of sien aankom.”

Dit word vir my duidelik. Tot dusver was die voorvaders maar net wederopstandig. Nou begin raak hulle net gewoon opstandig. Maar hulle het reg. As ons die voorouers nie lewendig hou nie, dan gaan hulle tot niet.

Ek wil nie spoke opjaag nie, maar as ons hier versuim, gaan ons sondes die vadere besoek. Tot in die derde en vierde geslag van dié wat hulle skaad. Nie van bo af ondertoe nie, maar van onder af boontoe. Die sonde van die nasate besoek al klaar die vadere. Ons druk hulle al meer in ‘n blik. Of damp hulle af soos ‘n wasem uit ‘n proefbuis onder ‘n Bunsen-brander.

Dit is om van skaam te wees. In elk geval, tot wanneer ons die begraafplase beter begin versorg.

FOTO: Maitland-begraafplaas, Voortrekkerweg, Kaapstad. Om die waarheid te se is dit netjies en goed onderhou. Jammer Jannie se mense is so knorrig. – Riaan de villiers. 

1 thought on “Onder die kluite raak ons voorvaders nou warm”

  1. Jannie Gagiano is for me a beacon of light , a spirit I wish could be shared by all folk, notably including all young folk, all enquiring folk. I wish he would also share with us how he sees the new boundaries or new mergers of thinking and ideology facing us all. So that, at least, we can engage with him, and enjoy the tussles.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Share via
Copy link
Powered by Social Snap