Zuma steek weer kop uit

Hier’s ek weer, hier’s ek weer, met my rooi rok voor jou deur …

JANNIE GAGIANO  | Oud-President Jacob Zuma spartel partykeer benoud in die politieke stroomversnellings rond. Nes dit lyk of hy gaan versuip, wip hy sy kop soos ‘n ontstelde fonteinpadda bo die water uit, lek met sy tong soos ‘n verbouereerde veldlikkewaan ‘n paar keer oor sy lippe, en voor jy jou kom kry, brand hy alweer met sy umshini op jou los.

Veelvuldig is die kere wat ons (dit is nou die arme vuisvoos siele wat nog probeer om die grondwetlike bestel van ‘n gewisse dood te red) gedink het hy’s uiteindelik in ‘n blik gedruk. Net om kort daarna te sien hoe hy homself soos ‘n wafferse Houdini uit sy boeie loswikkel, en sy sondes onder ‘n stort afspoel.

Ons het gedink ons het hom aan die knaters beet toe hy een van sy Gupta-maatjies by Waterkloof laat inglip het vir ‘n lekker bruilofparty op staatsonkoste, en kort daarná sy ander maatjie, Bashir, by dieselfde Waterkloof laat uitglip het sodat die Sudanese diktator aan die geregtigheid van die internasionale strafhof kon ontkom.

Ons het gedink sy turf gaan sit oor die wapenskandaal, oor hoe hy vir Kwezi onder sy falliese vlerk geneem het, oor die vindingryke metodes wat hy aanbeveel het om virusse weg te spoel, oor sy tandetrekkery voor die Zondo kommissie, en oor sy verwaandheid om te dink dat hy die Gupta-broers in sy politieke koskas kon aanhou sonder om vlieë aan te lok.

Tevergeefs. Sy menige telge doen nog steeds sake met die Guptas, en hy waai die vlieë flink weg met die beesstert wat hy by Shaka geërf het. Toe hy uiteindelik gevonnis word tot tronkstraf sonder die keuse van ‘n boete het ons gemeen (of minstens gehoop) dat hy vir eens en altyd uit die politieke arena sou verdwyn.

Maar net toe die tronkdeure agter hom toeslaan, doen hy gerieflik ‘n ongeneeslike siekte op wat nie in die gevangenis se siekeboeg of hospitaal behandel kon word nie. Die soort siektes wat die Direktoraat van Gevangenisse verplig om hom toe te laat om die res van sy straf in die vrye opelug langs ‘n brandpoel op sy Nkandla landgoed uit te dien, en verder te bepaal dat die enigste doktors wat sy kwale kan diagnoseer en genees, Russies praat en in Moskou praktiseer.

En nou lek Jacob, die Teflon-man met die Russiese siektes, sy lippe opnuut af om sy veelsydige Umkhonto in diens van die weSizwe te stel. In KwaZulu-Natal, waar die geesdrif hoog loop vir sy nuwe party se skild-en-spies-logo, word hy oral op die hande gedra. In ander landsdele word die gejubel en die vingers aan die hande stelselmatig minder totdat dit in die Wes-Kaap kwyn tot net een. Die middelvinger. Ook bekend as die Jakop Regop.

In dié provinsie neig mense om soos H.L. Mencken te dink oor hoe presidente behandel moet word wanneer  hulle uittree. Mencken beveel aan dat sodra hul dienstermyne uitloop, hulle óf geskiet óf gehang moet word Anders peuter hulle rond met alles, steek hulle neuse ongevraagd oral in, en eindig op as openbare oorlaste.

 

uBaba by ‘n onlangse saamtrek van die uMkhonto weSize Party. Foto: MK Party op X (Twitter).

Die stigting van sy nuwe party is ook nie die eerste keer dat sy uMkhonto die nasionale politieke arena binnedring en dreig om die wereld aan die brand te steek nie. In 2010 maak die kunstenaar, Brett Murray, nasionale opslae met ‘n skildery van Jacob waar hy nes Vladimir Lenin na dié se aankoms by die Finland spoorwegstasie in St Peterburg pronk en sy revolusionêre manlikheid vertoon.

Die enigste verskil is dat Brett, in sy nabootsingsportret, als van Zuma laat uithang — sy revolusionêre geesdrif en sy genitalia. Sy geheime wapen word voor die ganse weSiswe ontbloot. ‘n Nasionale skande word ooreenkomstig afgekondig, en ter bevordering van nasionale smaak word die skildery uit die openbare oog verwyder.

Hoe kan ‘n leier nou die setel van sy revolusionêre libido dominandi beskerm as Brett Murray sy Umkhonto ontsluier  in ‘n toestand van skugtere verleptheid? Dit ondermyn mos die nasiebou-projek! Die amaXhosa met hulle besnydingspraktyke gaan mos lag vir Jacob — enersyds omdat hulle kan sien dat sy Jakop nie regop of opreg is nie, en andersyds omdat hulle ook dadelik kan sien dat hy nie so ‘n goeie kop vir besigheid soos sy voorganger Thabo Mbeki het nie. En gesoute politici weet dat net skoolkinders sal stem vir ‘n politikus wat belowe om sy ketotter vir hulle te wys as hy die verkiesing wen.

Maar moenie vir ‘n oomblik dink dat sulke beuselagtige vernederinge die held van Nkandla van stryk sal bring nie. Soos Donald Trump groei sy politieke kapitaal saam met sy politieke skandes. Hoe meer sy onderrok uithang, hoe gewilder word hy onder diegene wat glo dat die koloniale slang wat Suid-Afrika se tuin van Eden saam met Jan van Riebeeck se drie skepies  die Kaap binnegeseil het, se kop alleenlik met Comrade Lenin se Bolshevistiese byl afgekap kan word.

‘n Ekonoom het onlangs Zuma se planne vir radikale ekonomiese transformasie (RET) afgemaak as ‘n mengsel van beesmis en roomys. “It doesn’t do much for the cow dung,” sê hy voorts, “but it sure spoils the ice cream.”

In die laat sewentigerjare het regter Rudolph Erasmus homself in die Suid-Afrikaanse geskiedenisboeke ingeskryf met die opmerking: ‘Your protests run off my back like duck’s water.’ In hierdie stadium lyk dit asof daar niks is wat nie soos eendewater teen JZ se rug sal afloop nie.

Dit is soos om te dink dat jy ‘n veldlikkewaan kan klits met ‘n kettie. Of ‘n fonteinpadda kan verdrink deur sy kop onder die water te hou.

Na berig word, werf Zuma nou selfs stemme onder Piet Retief se nasate. “As jy hou van ‘n Zulu op jou stoep, kom kuier vir my in Nkandla, of kom voel aan Dingaan se spies by Umgungundlovu – dis net om die draai van Bloedrivier,” lui sy uitnodiging. “Ons is lief vir Afrikaners.”

Jakkals sê vir gansie, kom eet vanaand by my. As so ‘n man praat van die wederkoms, beter jy hom glo.

HOOFFOTO: Jacob Zuma by ‘n onlangse vergadering met Koning Letsitsa en sy gevolg. Foto: MK Party op X (Twitter).

Share via
Copy link
Powered by Social Snap