Die Karoo se eie dinosaurusse

Deur Ona Viljoen

In 1934 het Peggy Rubidge van die Graaff-Reinet-omgewing in die veld op die 30 cm-lange skedel van ‘n groot vleisvretende fossiel afgekom. Dit is deur die internasionaal bekende paleontoloog dr Robert Broom as ‘n nuwe spesies beskryf en die naam van Dinogorgon rubidgei gegee. Dit was ‘n massiewe en gevaarlike roofdier wat net in Afrika voorgekom het.

Die skedel van die Dinogorgon rubidgei, wat in 1934 in die veld opgetel is.

Dié fonds het tot ‘n intensiewe en uitgebreide soektog na nog fossiele in die Karoo gelei, en groot belangstelling in Suid-Afrika se eie dinosaurusse geprikkel. Die Rubidge-familie het deur die jare ‘n indrukwekkende versameling fosiele opgebou wat hulle in hulle eie museum op hulle skaapplaas Wellwood uitgestal het.

Ná nege dekades het prof Bruce Rubidge, wat op Wellwood grootgeword het, die fossiele na ‘n splinternuwe fossielsentrum, Karoo Origins, in die middedorp van Graaff-Reinet verskuif. Hy is ‘n direkteur van die sentrum.

Bruce het sy liefde vir fossiele van sy oupa en ander familielede geërf en later self diep spore in die wêreld van paleontologie getrap. In 1990 is hy aangestel as direkteur van die Bernard Price-instituut vir navorsing oor die paleontologie en hoof van die departement van paleotologie aan die Universiteit van die Witwatersrand aangestel. Hy het ook talle ander poste beklee, en was by die vestiging van talle museums betrokke.

Die Fossiel-sentrum in Graaff-Reinet. Foto’s verskaf deur die skryfster. 

Die klippe en rotse van die Karoo huisves ‘n unieke geskiedenis van die vroeëre evolusie van dinosaurusse, skilpaaie en soogdiere van 300 miljoen tot 180 miljoen jaar gelede.

Van die  interessante fossiele wat ontdek is, is die Pareiasaurus Serridens, een van die grootste plantvreters van sy tyd wat tot 1 000 kilogram kon weeg en 2,7 meter lank kon word. Hy het sowat 259 tot 252 miljoen jaar gelede geleef. Die fossielmuseum is beslis ‘n besoek werd !

BOONSTE FOTO: ‘n Model van die Pareiasaurus Serridens, een van die grootste plantvreters van sy tyd.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Share via
Copy link
Powered by Social Snap